Ons gemeente
Die NG Gemeente Groenkloof is ‘n klein gemeente met ‘n groot hart. Ons lê oos van die Fonteine sirkel al teen die hang onder Fort Klapperkop. Ons het in 1953 afgestig van twee gemeentes; Pretoria Oos en Suid Oos Pretoria (Stellastraat). Ons gemeenteprofiel lyk soos ‘n uurglas. Heelwat ouer lidmate 60+ wat almal die eerste inwoners van die woonbuurt was. Hulle begin nou vertrek wat maak dat al meer jonger lidmate hier intrek. Ons het ‘n besige moederskamer....Ons gemeentetal is om en by 400. Groenkloof is ‘n “gated community” wat ons op mekaar aangewese maak en ‘n “dorp” eerder as voorstad gevoel aanwakker. Die meeste van ons bure is diplomate en Jode.
Ons gemeente is tradsioneel in ons aanbidding op Sondae, maar geniet ook soms ‘n lofprysingsdiens waar ons baie hartlik met die orkes saamsing. Die Woord staan sentraal en suiwer Woordbediening is baie belangrik. Ons reik ook uit na gemeentes buite ons grense. Ons is deurlopend betrokke by Jan Niemandpark in Eastlynn en Nellmapius (VGK). Dan is ons op barmhartigheidsbedieningsvlak op ad hoc basis betrokke waar daar nood bestaan. Ons gee nie net geld nie, maar ook tyd hande en voete.
Ons poog om ‘n ruimte te skep waar lidmate (en ander) geestelik kan tuiskom en geestelik groei. Om betekenisvol te wees en te lewe (kwalitatief) is vir ons belangriker as om suksesvol (kwantitatief) te wees. Daarom wil ons fokus op verhoudings. Ons wil ons verhaal met God so beleef en uitleef, dat ander graag deel daarvan sal wil wees.
Ons geskiedenis
Soos bo genoem, het Groenkloof afgestig van twee moedergemeentes – Pretoria-Oos en Suidoos-Pretoria. In 1953 het die nuutgestigte kerkraad van Groenkloof besluit om ‘n predikant te beroep. Ouderling Koos de Swardt en Ds. Koos Louw, in hul gedenkboek Groenkloof 50, beskryf die proses só: “Die lot is gewerp en proponent Albertus Venter Strydom is beroep. Hy het die beroep aanvaar en op 22 Januarie 1954 is hy en sy gesin op die Delmaspad ingewag. Die res van die naweek is hy bevestig, ‘n geselligheid is gehou en op Sondag 24 Januarie 1954 lewer hy sy intreepreek”. Oorspronklik het ons die kerksaal op die hoek van Dey- en Langestrate gebruik vir aanbidding, maar in 1959 wy ons ons voltooide kerk in. Die video hieronder gee ‘n paar hoogtepunte van die res van ons geskiedenis.
Bron: De Swardt, K & Louw, K. 2003. Nederduitse Gereformeerde Kerk Groenkloof 50: 1953-2003.